Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 10 MEI 2015

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag om 08:15 sentraal Afrika tyd in Afrikaans en om 08:30 sentraal Afrika tyd in Engels landswyd 'n nuusbulletin uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Vir Echolink-luisteraars is daar 'n herleiding deur ZS0JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se webblad.

Hierdie oudiobulletin kan van die Liga se webblad by www.sarl.org.za afgelaai word. 'n Teksweergawe van hierdie en vorige bulletins kan ook daar verkry word en jy kan ook inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

Die bulletin begin met nuus van ’n stil sleutel

Dit is met groot leedwese en hartseer dat KARTS aankondig dat die sleutel van Ray Steedman, ZS6QM, stil geword het op Dinsdag 5 Mei 2015. Ray is in die hospitaal oorlede nadat hy twee weke gelede gehospitaliseer is met longontsteking. Sy groot sin vir humor, woorde van bemoediging, leierskap en aktiewe deelname in die AWA en KARTS sal bly voort leef in ons herinneringe aan hom. Ray sal verseker gemis word deur almal wat hom geken het.

Ons betuig ons innige meegevoel met sy vrou Margaret, sy familie asook sy groot vriende kring.

POUSE

In die nuus vandag

DIE MAANDELIKSE JEUGNET EN DIE AWA SE BUIS ESB KOMPETISIE VANDAG

RUIMTEVAARDER OP DIE ISS BEANTWOORD VRAE VAN SA LEERDERS

en

DIE MAART/APRIL RADIO ZS IS BESKIKBAAR

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuus items.

** Ons wens alle Moeders ’n baie spesiale Moedersdag toe!

** Die maandelikse Jeugnet sal vanaf 16:00 SAT vanmiddag op 7 070 kHz plaasvind. Kom geniet die middag saam met Koos Fick, ZR6KF, en ander jong radio-amateurs en deel die wonderwêreld van amateurradio saam met hulle. Klubs word aangemoedig om gebruik te maak van die kans om jongmense na hulle klubs te nooi om onder die roepsein van die klub, of `n gelisensieerde klublid deel te neem.

** Ook vanmiddag tussen 13:00 en 17:00 UTC kan jy deelneem aan die AWA se Buis ESB kompetisie met aktiwiteit tussen 7 063 en 7 100 kHz en 3 603 en 3 650 kHz. Die uitruiling is jou roepsein, 'n RS-verslag, 'n opeenvolgende reeksnommer wat by 001 begin en die tipe radio gebruik. Vind die volledige stel reëls in die 2015 Kompetisie-handleiding.

** Dit was 'n dag wat hulle lank sal onthou! Leerders van die Sol Plaatje Laerskool in Mmabatho is op Saterdag 2 Mei 2015 met die Italiaanse ruimtevaarder Samantha Cristoforetti op die Internasionale Ruimtestasie gekoppel via 'n amateur radio grondstasie geleë in Casale Monferrato, in die noorde van Italië, wat deur Claudio Arrotti IK1SLD, bedien is.

Terwyl onderhandel is om 'n tydgleuf te verseker vir 'n Suid-Afrikaanse skool, het die Italiaanse ambassade die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Wetenskap en Tegnologie (SAASTA) genader om te help met die identifisering van 'n skool vir hierdie projek. Die feit dat die Sol Plaatje Laerskool span 1 101 ander skole geklop het in SAASTA se Nasionale AstroQuiz in 2014, het verseker dat hulle hierdie opwindende geleentheid wen.

Die oorspronklike plan vir die leerders was om met Samantha Cristoforetti te praat tydens 'n oggend verbyvlug maar as gevolg van die werksdruk op die ISS, is die kontak verskuif na 'n laatmiddag verbyvlug wat gelei het dat die skakel gedeel moes word met 'n Italiaanse skool.

Spanning het hoog geloop toe dit vasgestel is dat die telefoonlyn na die saal nie inkomende oproepe kan ontvang nie. "Ons het waansinnig gereël met die tele-brug in die VSA dat ons hulle sou kontak," het Hans van de Groenendaal ZS6AKV, gesê.

Voor die ISS kontak, het Koos Fick ZR6KF, 'n leerder by Helpmekaar Hoërskool en die Suid-Afrikaanse Radioliga se jeug aktiwiteit koördineerder, 'n kort aanbieding gegee oor amateur radio en hoe dit hom help in sy skoolloopbaan en hoe die wetenskaplike stokperdjie kommunikasie verskaf tydens noodgevalle, gemeenskap en sportbyeenkomste. Hy het gesê dat die skakel met die ISS nie moontlik sou gewees het sonder amateur radio.

Soos die laaste paar sekondes verby getik het, was die leerders gereed om hul vrae te vra en saam met die gehoor, was almal sigbaar op hete kole, maar toe die eerste woorde "Hi, I am Samatha Cristoforetti” oor die luidsprekers gehoor is, was daar 'n spontane applous gevolg deur 'n intense 10 minute van stilte soos Sol Plaatje en leerders by die Italiaanse skool afwisselend vrae gevra het. Dit is 'n geleentheid om te onthou vir 'n leeftyd.

Die skakel na die audio van die kontak is beskikbaar op www.amsatsa.org.za

U luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga.

** Die Maart/April-uitgawe van Radio ZS is beskikbaar vir aflaai vanaf die Lede blad van die Liga se webwerf. In hierdie uitgawe, word Koos Fick, ZR6KF, die Jeugliga se Jeug koördineerder bekend gestel; jy kan die Liga se jaarverslag en die lys toekennings wat oorhandig is tydens die SARL 90 toekennings dinee; Tim, ZS6IM, vra die vraag "to Yagi or not to Yagi?"; Mark, ZS6USA, vertel van die Paasnawek – die radioamateur manier; Eddie, ZS6BNE, en sy kleinseun het deelgeneem aan die RaDAR Uitdaging en Kevin, ZS6KMD, wys jou hoe om 'n eenvoudige RF meter vir 'n antenna instem eenheid te bou. Maar dit is nie al nie! Kry jou kopie van Radio ZS vandag, 383 lede het dit reeds gedoen!

** Aansoek om lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Radioliga is van die volgende persone ontvang - Gavin Howard Badenhorst, ZS6BG; Koos Greyvenstein, ZS6KSG en H J Beukes, ZR5RPC.

Enige besware teen die aanvaarding van die lidmaatskap-aansoeke moet die Liga Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin. Lidmaatskap van die Liga is tans 1 637 lede asook 38 geaffilieerde klubs.

** Die Magalies Radioamateurklub se volgende klub byeenkoms vind plaas op 16 Mei 2015. Die vergadering begin om 14:00 by die Magalies klubhuis op die hoek van Breyer- en Millslaan in Waverley, Pretoria. `n Baie interessante aanbieding gaan gedoen word deur Adolph Smith, ZSL5385. Sy aanbieding behels die drie dimensionele drukker en hy het sy eie drukker alreeds gebou. Adolph het ook al sy eie onderdele soos `n vonkverdeler gedruk. Jy kan byna enige onderdeel bou.

As jy in die Pretoria omgewing woonagtig is, of selfs verder, en jy sou belangstel om die praatjie te kom bywoon is jy baie welkom. Kom geniet die middag saam met mede-amateurs oor `n koppie koffie of `n ietsie meer koud.

** SARLNuus het 'n versoek ontvang wat vra dat radio amateurs hul QSL rekords op die Liga se elektroniese QSL stelsel sal bevestig omdat baie amateurs probeer om die Worked All ZS toekenning te verwerf.

** Oor die naweek van 30 en 31 Mei, kan jy deelneem aan die CQ WPX Gelykgolf kompetisie met werking op 160, 80, 40, 20, 15 en 10 meter. Die uitruiling is 'n RST verslag en 'n reeksnommer. Vind al die reëls by www.cqwpx.com/rules.htm

Die tweede Suid-Afrikaanse Radioliga Digitale-kompetisie word gehou op Sondag 31 Mei vanaf 13:00 tot 16:00 UTC met PSK en RTD werking op 80, 40 en 20 meter. Die reëls is op bladsy 45 van die 2015 Kompetisie-handleiding.

** In die voortplanting verslag, Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag tot matig gaan wees. Sonvlekke AR2335 en AR2339 het komplekse magneet velde wat genoeg energie vir M- of X- klas fakkels huisves.

Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van ongeveer 99 vir die week gebruik. Amateurs kan veral laatmiddag en gedurende die aande goeie openinge op die 20 tot 10 m DX bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

En nou vir die dagboek van gebeure

10 Mei - AWA Buis ESB Kompetisie en die Jeugnet op 7 070 kHz
16 Mei – die maandelikse vergadering van die Magalies Radioamateurklub
21 Mei – die Radio Amateur eksamen
30 en 31 Mei – die CQ WPX Gelykgolf kompetisie
31 Mei – die Suid-Afrikaanse Radioliga Digitale-kompetisie
6 Junie – die KARTS en AWA opedag
20 Junie – die SA AMSAT Simposium

Om hierdie bulletin te beëindig, 'n herhaling van ons belangrikste item in die nuus vanoggend

Die maandelikse Jeugnet sal vanaf 16:00 SAT vanmiddag op 7 070 kHz plaasvind. Kom geniet die middag saam met Koos Fick, ZR6KF, en ander jong radio-amateurs en deel die wonderwêreld van amateurradio saam met hulle. Klubs word aangemoedig om gebruik te maak van die kans om jongmense na hulle klubs te nooi om onder die roepsein van die klub, of `n gelisensieerde klublid deel te neem.

Ook vanmiddag tussen 13:00 en 17:00 UTC kan jy deelneem aan die AWA se Buis ESB kompetisie.

** Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die ‘news inbox’ skakel nie later as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 sentraal Afrika tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 sentraal Afrika tyd op 3 230 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS, geredigeer deur Vivian Dold ZS6VD, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens

73's en dankie vir die luister

/ EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003